My lewe volkome oorgegee aan God

Deur Dr. Amanda du Plessis (GK Vereeniging-Oos)

My hele lewe het onlangs verander – nie net het ons verhuis na ʼn nuwe dorp nie, ek staan ook in ʼn nuwe werksituasie. Ongevraagd en ongewens. Daarom het die tema van hierdie artikel lynreg in konfrontasie met my innerlike woelinge kom staan – my lewe volkome oorgegee aan God…

Wat beteken hierdie volkome oorgawe van jou lewe aan God?

As kerk is ons besig om ons voor te berei vir die Paasfees. Hierdie tyd gaan altyd gepaard met kritiese selfondersoek, met ʼn skoonmaakproses en ʼn hernuwingsproses. Daar is veral drie gebede wat uitstaan in die lydingstydperk van Jesus Christus. Dit begin met die gebed: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied” (Luk. 22:42), gevolg deur: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34) en derdens: “Vader, in U hande gee ek my gees oor.”

Daar is progressie in hierdie gebede opgesluit. Die gebede kan nét hierdie volgorde gebid word. Dit kan nie omgeruil word nie. Selfs Jesus, wat volkome God en volkome mens was, moes hierdie les leer. En uit hierdie genade van God – die Paasfees, in Engels The Passion of Christ – word die pad vir ons as gelowiges aangedui om ook ons lewe in God se hande oor te gee.

Persoonlike verhouding

Lukas teken die gebede op ʼn besonderse manier aan, as hy telkens die gebede begin met Vader. Dit dui op die besonderse verhouding tussen Jesus en God. God was (is) sy ewige Vader. Vir Jesus is God nie ʼn “afstandsgod” nie. Dit dui verder ook op iets van God se Vaderhart, sy omgee, sy genade, sy uitreik én aanraak én leiding én sorg vir ons as sy kinders (Joh. 1:12). Selfs al moet ons soms uit ʼn beker drink wat ons eerder wou vermy, kan ons sy hart vertrou – soos Jesus ons hier wys. Gevolg deur die kruisiging van die eie-ek: die ander wang draai, die uitspreek van vergifnis wanneer ons eerder wil terugslaan, die doodmaak van eie begeertes en planne, die stil gaan lê sodat die spykers ook deur jóú hande, voete en hart geslaan kan word. Die pyn in die oë kyk en steeds God se hart te bly vertrou.

Alleenlik na dít gebeur het, kan die derde gebed gebid word: “Vader, in U hande gee ek my gees oor”. Dit is jou lewe volkome oorgegee aan God. Maklik? Nee. Moontlik? Deur God se genade alleen.

Tussen die tweede en derde gebed was daar egter ook ʼn ander uitroep – een van ʼn belewenis van verlatenheid en duisternis. “My God, my God waarom het U my verlaat?” (Matt. 27:46). Maar God is getrou en al was of is duisternis soms ook ons belewenis, net soos Jesus sʼn hier, kan ons steeds sy hart vertrou en uiteindelik sal ons by die derde gebed uitkom as ons volhard in ons soeke na Hom en ons oorgawe aan Hom alleen. Jesus self is die Môrester wat die lig laat deurbreek vir elkeen.

Die nuwe lewe in Christus

In Romeine 12 praat Paulus oor die nuwe lewe in Christus. In verse 1-2 skryf hy van die groot ontferming van God. Paulus doen ʼn beroep op die gelowiges dat hulle “op grond van die groot ontferming van God” (dus deur die groot genade van God!) hulleself aan God moet gee “as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.… Julle moenie aan die sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

In Romeine 12: 9-20 word daar dan verder riglyne vir ʼn lewe van totale oorgawe aan God, gegee. Op grond van ons vryspraak deur die kruisdood van Jesus, leef ons nie meer volgens ons eie wil nie, maar volgens die wil van God vir ons.

Tweedens leef ons ook ʼn lewe van vergifnis. Omdat ons vergifnis ontvang het, skenk ons dit ook aan ander. Die tweede gedeelte van Romeine 12 dui op hierdie lewe. Gebruik gerus die woordeboek saam met die lees van verse 9-21 om die volle betekenis van elke woord te verstaan.

Alleenlik dan kan die derde gebed gebid word. “Vader, in U hande gee ek my gees oor”. Dan kan ons onderskei wat die wil van God vir ons is: Sy goeie, aanneemlike en volmaakte wil vir ons lewe. Uiteindelik maak dit ons net ʼn instrument in die hande van God waardeur sy wil geskied: Jy moet daar waar God jou geplaas het, die kanaal wees waardeur sy Lewende Water die dors van ander les, en die verspreider wees van die Brood van die Lewe wat die honger van ander stil. Jou optrede moet sê: “Ek bied U hart en hande in will’ge offerhande” (Ps.40:4, berymd). So ʼn hartsgesindheid getuig van ʼn lewe van totale oorgawe aan God. Die profeet Miga bevestig dit ook wanneer hy sê gelowiges moet so leef dat hulle reg laat geskied, liefde en trou bewys en bedagsaam voor God leef. Wanneer ons as kinders van God, ʼn lewe van totale oorgawe aan God leef, dien ons die Here, en dít is wysheid (Miga 6:8). Wysheid is dieper as blote kennis en ingeligtheid. Dit is om God se hart te vertrou en Hom te dien – om Hom te volg, waar Hy jou ook al lei.

Met elke artikel wat ek skryf, is dit asof die Heilige Gees die tema werklik lewend maak in my eie lewe. Daarom is die inhoud in die artikel nie maar sommer net “kopkennis” wat neergepen is nie. Uiteindelik is dit “hartskennis”. Dieper as ʼn blote wete, want dit het vir ʼn tyd – vanaf die ontvangs van die tema tot die skryf daarvan – gegroei tot wording. Dit is om in die spieël van blote ingeligtheid dieper te kyk en die waaroms en hoekoms daarvan te probeer verstaan. Ek glo dit is met elke artikelskrywer die geval – veral as die inhoud handel oor dié saak wat ons diepste wese aanraak: Ons geloof in God. Daarom eer ek God elke keer vir die voorreg om vir julle te kan skryf.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *