Grens: ʼn verhaal van verlies en genesing deur Leonette Smit

Resensent: Annamie Odendaal

Die skrywer is ʼn diep gelowige vrou, bevoorreg om saam met haar man in die Here se diens te wees. Al lewe ’n mens naby die Here, kan jy steeds diep seer hê. Hoedat Hy troos en genees, is wonderwerke waaroor ons uiteindelik met vreugde en dankbaarheid kan sing.

Leonette se diep smart oor haar seuntjie wat net minute lank gelewe het, het sy ‘n leeftyd saam met haar gedra. Ten spyte van haar ander kinders – twee gebore voor Ignatius se dood en drie daarna – treur sy oor haar kind wat sy nie kon grootmaak nie. Die verhaal van haar rou, diep binnekant waar niemand anders kan sien nie, terwyl sy normaal aangaan met Bybelstudie aanbied, skoolhou en kinders grootmaak – en die geleidelike genesing raak ’n mens diep en help enigeen wat een of ander groot verlies of trauma gehad het.

Sy gebruik drie hulpmiddels wat tot elkeen van ons se beskikking is: musiek in die begin, en baie later berading en skryf. ’n Mens hoef nie ‘n boek uit te gee om troos en helderheid te kry deur jou smart uit jou uit te skryf nie, en ’n mens hoef nie kennis van musiek te hê om daardeur getroos en uit terneergedruktheid gelig te word nie. Om na ‘n bekwame berader te gaan wat ook ʼn gelowige is, moet ’n mens net jou vals trots en wantroue in mense sluk en ’n bietjie navorsing te doen om die regte persoon op te spoor.

Die titel sinspeel op grense binne ʼn mens, asook op die wérklike Grens, soos wat ons dit in die jare sewentig en tagtig geken het. Ds. Johan Smit, Leonette se man, was lank in die Caprivi werksaam, eers in ʼn ‘sending-gemeente’ en later as weermagkapelaan. Leonette skryf lewendig oor die wel en wee van die lewe in die Caprivi met sy verlammende hitte en droë sandstrate. Die flossie-vlugte na die ‘States’, die kameraderie van staande mag-eggenote wat mekaar so onvoorwaardelik ondersteun terwyl hul mans soms maande lank nie tuis is nie, die vragmotors wat die dorp ingetoeter kom en die vrouens wat op die dorpsplein is nog vóór die groente afgelaai is, die groot skrik vir ‘n olifant in jou voortuin… Die boek is net daaroor al die moeite werd om te lees.

Leonette skryf oor die klein detail van elke dag, en die voorbeeld van ‘n gesin wat so naby die Here leef, is nog ‘n groot pluspunt van hierdie boek.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *