Genade, Geloof, Gebed

Geestelike groei

Deur Jo van Rooyen

Te vinnig klim my pragtige kleinkinder-saadjies een vir een uit hul kleinwees-doppies en begin groei en blom. Eers lê hulle daar, klein pienk roosknoppies, onskuldig, knus in die arms, dan ontluik hulle, lag hulle, val hulle word hulle vrolik dartelende kappertjies wat waai, swaai en dwarrel in elke speelse briesie. Vreesloos en kommervry. Die malsheid van kleinwees wyk ook geleidelik en die lawwe bont kappertjies word roosknoppe, pronkende tienerblomme voor die spieël.

As ek dié grootword sien wil ek keer, maar die wonder daarvan maak my stil. Ontluiking bring na vore die wondergawe van ’n werkende verstand, humor wat deurslaan, eie menings wat gelug word. Net soos my eie kinders, is dit nou my kleinkinders, die saadjies van my saadjies, se beurt om hul vlerke te toets teen die winde van groot word. Een van die dae sal die einste winde hulle skep en êrens neersit waar hulle weer sal invroetel en wortelskiet in hul eie tuintjies. ʼn Nuwe kringloop sal weer begin. So hoort dit mos. My rol is nou om vanaf my stoep en my binnekamer hierdie saadjies te sterk met my gebede.

Nee, nie te gou nie, op God se tyd ontluik elkeen van sy kinders.

Maar die mens hou nooit op groei nie. Ek praat nou nie van in die wydte nie – ek praat van regte groei in gees en wysheid. Die leerproses, geestelike groei duur voort tot oog of verstand uiteindelik sluit. Elke mens, slim, dom groot of klein, almal wat my pad kruis dra, in wisselende maat, by tot my persoonlike groei as mens. Hierdie mens wat God gekies het, groei ook geestelik deur elke mens, elke woord, elke lag en elke huil wat jou pad kruis. God laat jou groei.

Groei is ʼn ewigdurende proses wat werk vra. Haelstorms laat letsel op bome. Die merke bly, maar dan kom die hernude krag en groei en gloei die plant geil groen bo die letsels uit. Om hierdie na-storm groei te kan ervaar is daar ʼn pad wat geloop moet word. Genade, geloof en gebed lei tot geestelike groei en grootword in God, maar terselfdertyd ook klein word voor God. In hierdie proses moet ’n mens leer om te leer:. Leer om te luister na sy stem, te hoor wat Hy wil hê. Ek moet leer om te aanvaar dat sy genade groot is en vir my persoonlik is, dat Hy vir my persoonlik gesterf het. Daarby moet ek leer om te vergewe. Mag ek aanspraak maak op vergifnis as ek self nie kan vergewe nie? Berusting, nederigheid, liefde gee en liefde ontvang, is gawes wat lei tot geestelike groei, wat soos in ʼn goed versorgde tuin, vrugte lewer. Hoe meer die boontjies gepluk word hoe meer lewer die plant. Hoe meer ek gee, hoe meer kry ek terug en hoe meer kan ek weer gee.

’n Mens se lewe is soos ʼn plant: ʼn Klein saadjie ontkiem en kruip uit die grond. Die saadjie word bemes en groei. Uiteindelik lewer hy vrugte, vrugte wat weer saadjies lewer en voortgaan en oral nuwe plante laat ontstaan. In hierdie groeiproses kry ’n mens seer, maar word jy ook weer heel en geestelik ryker. Die ou plant word oud, word droog en kreukel, maar binne die ou, droë dop bly die lewe wat God daarin geplaas het. Groei hou nooit op nie. Die mens groei en groei deur die tyd van aardse sonde tot daar waar God jou wil hê in sy volmaaktheid en eendag, as hierdie plant op aarde klaar gegroei het en kwyn en sterf, sal daar nuwe, wérklike lewe wees. Dan sal ons saam volmaak in sy ewigheid deel. Ons groei almal elke dag ʼn klein bietjie – totdat die dood uiteindelik ware lewe bring.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *