Ons roeping in “die laaste dae”

Deur: Ds. Nico Botha

“Moet ons die dalende lidmaatgetalle nie eerder gelate aanvaar nie?”

Die vraag is: “Is dit regtig nodig om so bekommerd te wees oor die dalende getalle van lidmate in ons kerke? Moet ons nie aanvaar dat presies gebeur wat daar in byvoorbeeld 1 Tim. 4:1 en 2 Tim. 3:1-5 oor afvalligheid in die eindtyd staan nie? Is kerke se pogings om weer groei in getalle te bewerk, nie dalk in stryd met duidelike uitsprake van die Skrif nie?”

Die eindtyd

Die vraag help ons om weer daaraan te dink dat ons in die eindtyd leef, die tyd tussen Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort is en die dag van Jesus se wederkoms. Na God se genadedaad om met sy Gees in sy kerk te kom woon, bly nog net een ander magtige heilsdaad oor, naamlik die voleinding met ons Koning se wederkoms. Daarom word die tyd waarin ons en alle Christene sedert Pinkster leef “die laaste dae” genoem.

En dis nie maklike dae vir Christene nie.

Ons leef in die tyd van Satan se verwoede aanvalle teen Christus en sy kerk wat beskryf word in gedeeltes soos Matt. 24, Kol. 2, 2 Tess. 2, 2 Petr. 1, die Judasbrief, Op. 12, en verder ook in ander gedeeltes soos dié waarna in die vraag verwys word.

Ons kan as kerk van Christus daarom verwag dat ons nie hoog op mense se gewildheidslys sal wees nie. Die kerke sal selde applous en waardering vir ons dienswerk kry, maar gereeld venynige kritiek en beskuldigings.

In ons tyd neem die aanvalle teen die kerk al hoe meer die vorm aan dat groot getalle lidmate nie eers die moeite doen om kritiek uit te spreek of te probeer regstel wat, volgens hulle, fout is in die kerk nie. Ontevrede lidmate en ontnugterdes en twyfelende gelowiges en mense wat seergekry het deur ander se optrede, bly meestal sommer net weg uit die eredienste, raak onbetrokke en verbreek hulle band met die kerk en soms ook met Christus sonder om ʼn woord te sê. Die gemeente sê dikwels ook niks daaroor nie.

Die geheelprentjie van dalende lidmaatgetalle wat daal, sluit dus Satan se aanvalle, en kerke se sondes en lidmate se eiewilligheid in, en is saam tekens van die eindtyd.

Ons roeping

Dit help ons baie as ons in byvoorbeeld die twee briewe aan Timoteus net verder lees tot waar die apostel sê “Maar…Teenoor die afvalligheid van die eindtyd stel die Here die eis dat sy dienaars getrou sal wees, onsself met die woorde van die geloof en die goeie leer sal voed, onsself in die toewyding aan God sal oefen, goed op ons eie lewe en leer sal let en daarin sal volhard (1 Tim.4). In 2 Tim. 4 volg die duidelike opdragte: “verkondig die woord… weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee… verdra lyding… voer al die pligte van jou bediening uit” (4:2-5).

Die laaste dae is vir die kerk werktyd.

Jesus gee nie moed op vir sy kerk nie, Hy is die Oorwinnaar. En ons deel mos in sy opstanding en oorwinning.

Die afvalligheid, en daarom ook die dalende lidmaatgetalle, dwing ons om onsself eerlik voor die Here te ondersoek en seker te maak of ons nog dien en leer soos Hy van ons verwag. Waar daar vervlakking en ontrou en dwaling is, roep die Here sy kerk tot bekering: Hartgrondige en daadwerklike terugkeer tot Hom.

Die Goeie Herder is bewoë oor elkeen van sy kudde wat wegdwaal of eenkant toe gestoot is of mislei is. Hy gee hulle nie prys nie, maar vertrou hulle toe aan ons liefdevolle sorg en vermaning.

Die tydsgees

Wat die Here in sy Woord sê oor die gesindheid van mense in die eindtyd, gee ons insig in watter klimaat ons nou kerk van Christus moet wees. Dit maak ons nie traag en moedeloos nie, dit skerp ons juis op om in ons prediking en getuienis, in ons eredienste en ons hele bediening “eietyds” te wees, kragtig gerig op die mense van ons tyd sodat die Woord regtig “doel-treffend” sal wees.

“Die laaste dae is vir die kerk werktyd. Jesus gee nie moed op vir sy kerk nie, Hy is die Oorwinnaar. En ons deel mos in sy opstanding en oorwinning!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *