Die E100-leesplan

’n Arendsvlug deur God se Woord

Deur Hennie Dekker

Hoe intimiderend en uitdagend lyk die Bybel vir jou? Vir my lyk hy baie dik en ek het eens gedink “daar is geen manier waarop ek die Bybel sal kan deurlees nie!” Totdat ek die E100-leesplan ontdek het.  Hierdie program begelei jou in 20 weke op ʼn arendsvlug deur die Woord en voor jy weet is jy deur!

Wat is die E100?

Die “E” staan vir Essensiële, dus Die Essensiële 100-leesplan. Die Bybel word pragtig en sinvol ingedeel in 20 hooftemas wat jou deur die Woord lei van Genesis tot Openbaring.  Wanneer jy die program klaargemaak het, het jy ’n goeie begrip van wie God is en hoe lief Hy vir sy skepping en skepsels is! Elke tema is in 5 dele opgedeel, jy lees dus van Maandag tot Vrydag en volgende week gaan jy verder met die volgende tema. Saterdae en Sondae hou jy oop om op te vang of te oordink!

Die leesplan is soos ʼn arend wat hoog vlieg en wyd sien. Die skaduwee van die arend beweeg vinnig oor die oppervlakte van die aarde daar vér onder hom maar tog sien hy die fynste detail raak! So sal jy die Bybel ook ervaar wanneer jy met die program werk:  jy kry ’n geheelindruk,  maar alles bly tog skerp in fokus.

Aanvanklik lyk dit of ’n mens lukraak deur die Bybel lees, maar tog is dit anders.  En meeste van ons weet uit kosbare ondervinding: God se Woord laat jou nooit onaangeraak nie. God se Woord LEWE. Die Arend vlieg wel hoog, maar hy sien skerp uit die hoogte, swiep af en gryp sy kos en vlieg terug na sy hoë vesting om sy kinders en dan homself te voed.

As jy die leesplan jou daaglikse Bybelstudie maak, sal jy natuurlik dieper delf en daar jou kos vind, die brood van die lewe! Hoewel ’n mens vinnig lees, staan die Woord duidelik in fokus en voed dit jou as jy nader gaan en God self hoor praat! God se Woord word in jou hart bevestig deur die Gees, die Gees van Waarheid.

Wie lees die E100?

Almal kan, nee móét E100 lees! Of jy nou ’n kenner van die Bybel is of dalk nie. God se Woord is nooit saai of vervelig nie en jy kan nooit sê op watter reis God jou wil neem met hierdie eenvoudige leesplan nie. Behalwe dat jy dit alleen kan lees, is die leesplan ook uitstekend geskik om as gemeenteprojek aangepak te word. Die gemeente word aangemoedig om almal op dieselfde dag die leesplan aan te pak sodat hulle elke dag dieselfde gedeeltes saam lees. Dink aan die wonderlike Geestelike band wat daar kan ontstaan tussen lidmate.  So groei die gemeente dan daagliks saam in ons kennis en liefde vir God en sy woord!

Die Facebook-blad gee jou ook geleentheid om elke dag die kernvers wat vir jou uitstaan met ander te deel en selfs jou eie stukkie kommentaar daarby te plaas. As jy uit jou gedrukte Bybel (boek-in-die-hand) lees, kan jy net na jou vers verwys wanneer jy jou kommentaar gee. As jy op “YouVersion” lees (die Bybel op selfoon) is daar ʼn opsie om te deel (share) na jou Facebook-blad en/of na die E100 se Facebook-blad.

Versprei die Woord deur E100

Die E100 moet ook deel word van jou verantwoordelikheid om die Woord te versprei.  Deel die leesplan met jou vriende en familie wat nie saam met jou in dieselfde gemeente is nie (of dalk in geen gemeente is nie!). Deel die plan met jou Facebook-vriende. Julle ken die proses van deel op Facebook: as ek met my paar honderd vriende deel en hulle deel met hulle paar honderd vriende vlieg God se Woord binne ure die hele wêreld vol. Deel ook jou kernvers wat jy elke oggend lees met jou vriende sodat hulle daardeur aangesteek kan word om saam te lees. Sodra mense sien wat vir jou belangrik is, sal hulle dit lees, want wat vir jou belangrik is sal vir hulle ook belangrik wees.

Omdat dit nie ’n teologiese besprekingsblad is nie, aanvaar ons jou kommentaar as uit-die- hart  en weet ons dat dit nie ’n teologiese stelling is nie. Jy kan dus veilig voel want ons laat geen kritiek toe nie – slegs ondersteunende en bemoedigende kommentaar.

Ek bid dat die E100-leesplan vir ieder en elk tot groot seën sal wees en dat die Woord sal groei sodat dit mooi vrugte in elkeen se lewe sal voortbring.

HULPMIDDELS

  • Daar is ʼn amptelike E100-pamflet wat gratis beskikbaar is by die Bybelgenootskap van Suid Afrika. Daar is ook ʼn Pdf-weergawe van dieselfde pamflet beskikbaar op die Bybelgenootskap se webblad.
  • Daar is ʼn Facebook-bladsy met die naam ”E100-leesplan” wat elke week daardie week se leesgedeeltes vir jou beskikbaar stel, saam met bykomende inligting wat jy kan lees om daardie week se leesgedeeltes toe te lig en toepaslike agtergrond te gee.
  • Baie gemeentes deel die week se leesplan in hulle nuusblad sodat jy die plan voor oë kan hê.

Die E100-leesplan is ook op die “YouVersion”-Bybeltoepassing beskikbaar. Gaan soek vir “The Essential 100”-leesplan en lees dit in die vertaling van jou keuse; ingesluit die ‘83 of ‘53-vertalings. Daar is tegnies ʼn aanpassing wat jy weekliks moet doen. Die leesplan wil hê jy moet elke dag lees, insluitend Saterdae en Sondae, sonder onderbreking. As jy dus die 5-dae leesprogram wil volg moet jy Saterdag en Sondag nié lees nie. Maandag sal die program vir jou sê dat jy twee dae agter is. So, al wat jy doen is om die opsie te gebruik om “op te

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *