Hoe kan die woorde van die Vierde Gebod soms oorgedra word?

 “My vraag gaan oor die 4de gebod. Ek is ʼn 88-jarige weduwee en die laaste tyd pla dit my dat ons elke Sondag doodluiters bely: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou……”. Maar dan is dit die eerste dag van die week en dis ’n leuen dat ons net die 7de dag moet heilig hou, want ons moet mos nou AL die dae van ons lewens heilig hou. Ons kan tog seker die woorde van die 4de gebod aanvul met iets wat ons Nuwe Verbond en ons Verlosser se opstanding bewoord”.

 Is dit nie wonderlik nie dat hierdie vraag wys hoe diep ʼn ryk gelowige van 88 jaar dink oor die Tien Gebooie en oor wat in die erediens gebeur. Haar vraag gaan nie oor όf ons na die Vierde gebod moet luister nie, maar hoe ons wat daarna luister,  dit goed moet verstaan.

Die blye boodskap vir ons is: Christus het elkeen van die Tien Gebooie vervul. Hy het geleer dat ons nie self een van die gebooie ten volle kan nakom nie en dat Hy in ons plek die hele wet vervul het. Ons staan dus nie meer onder die wet nie, maar kan met nuwe harte, gelei deur die Gees uit dankbaarheid die wet gehoorsaam. Wel steeds nie ten volle nie, maar ons het ʼn ernstige begeerte om gehoorsaam te wees. Daarom luister ons met eerbied na die Wet van die Here.

Jesus vat die eerste tot vierde gebod saam vir ons wat saam met Christus uit die dood opgestaan het: “Jy moet die Here liefhê met jou hele hart…” Tog praat die Nuwe Testament anders oor die vierde gebod as oor die ander gebooie: Jesus gee aan baie gebooie ʼn dieper betekenis as net die woorde wat ons hoor, byvoorbeeld: As jy hoor: Jy mag nie moord pleeg nie, dan beteken dit jy mag nie vir jou broer kwaad wees of hom uitskel nie (vgl. Matt. 5:21, 22). Oor die vierde gebod (Sabbat) leer Hy die Sabbat is vir die mens gemaak, nie die mens vir die Sabbat nie. Paulus leer in Kol. 2:16 en 17: “Moenie dat iemand voorskrifte gee … dat julle die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” Die skaduwee wys na Christus. Die Vierde Gebod wys na Christus!

Wat sien ons van die werklikheid, Christus? Sy geboorte, sy lewe, woorde, wonders, lyding, sterwe, begrafnis en veral sy opstanding. Hy sterf op die Vrydag, is die hele Saterdag (Sabbat) leweloos in die graf en vroeg op die Sondag staan Hy op uit die dood! Hy vervul die Vierde Gebod oor die Sabbat so. Is die dag waarop Hy opstaan belangrik? Ja, dit is sy (en ons) eerste dag as Oorwinnaar uit die dood. Die eerste dag wat Hy ʼn verheerlikte liggaam het, die eerste en groot dag van ewige oorwinning. Daarom vier ons dit.

Ons moet nog die Vierde Gebod hoor, want dit wys na ons Here en Verlosser Christus. Ons moet onsself elke keer wat ons die Vierde Gebod hoor daaraan herinner. Omdat die Vierde Gebod na Christus wys, bring dit ʼn feestelike atmosfeer in die gemeente. Ons vier Christus! Ons bely (Sondag 38) ons vier Christus deur saam te kom met God in Christus, te luister na die blye boodskap (Christus), met die sakramente ons fees van Christus se verlossing voort te sit, God aan te roep en in ʼn feestelike stemming, ons liefdegawe in navolging van Christus se gawe aan ons, te gee. Omdat die Vierde Gebod na Christus wys, vier ons elke dag sy lewe op aarde, sy opstanding en sy hemelse regering. Dit doen ons deur te rus van ons sondige gedagtes, drange, optrede en ondankbaarheid en met vreugde te ervaar hoe die Heilige Gees elke dag deur die Woord in ons werk. So begin ons al die ewige lewe hierdie kant van die graf.

Dit sal waardevol wees as die Liturg (of dit die dominee is of ʼn ander voorleser van die Tien Gebooie) van tyd tot tyd die gemeente daaraan herinner, soos ons jeugdige 88-jarige voorstel. Dit kan in ʼn kort verduideliking aan die hand van die Kategismus wees, of ’n ander Skrifgedeelte. So kan die misverstand uit die weg geruim word dat ons maar net die Sabbatdag van Saterdag na Sondag verskuif het. Sondag is so ʼn unieke feesdag –Opstandingsdag! – dat dit elkeen van die ander dae, ook Saterdae, in ʼn feesdag verander.

One thought on “Hoe kan die woorde van die Vierde Gebod soms oorgedra word?

  1. baie mooi uiteensetting! die ‘ont-sondag’ van die 4de gebod as ek dit so mag stel; die ewige sabbatsrus het vir elkeen in Christus reeds aangebreek en DIT is wat ons moet hoor en, soos bo opgemerk, vier!
    seen
    gabriel smit

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *