Om die ander wang te draai

Deur Jacomien Zwemstra

Die afgelope maande het ons as Vroueblad-lesers saam die “geloofsleer” van 2 Pet.1:5-7 geklim. Ons is nou amper bo, want die laaste trappie in die leer is liefde vir alle mense.

Onvoorwaardelike liefde

Dit is baie interessant om na die Griekse teks (die taal waarin die Nuwe Testament geskryf is) van 2 Pet.1:7 te kyk. In Grieks gebruik hulle meer as een woord vir liefde en in hierdie vers gebruik Petrus twee verskillende woorde. Die eerste woord wat hy gebruik is “filadelfia”, dit beteken broederliefde. Die tweede woord wat hy gebruik is “agape”, dit is dieselfde woord wat in 1 Kor. 13, Luk. 10:27 en baie ander plekke gebruik word. Dit beskryf God se liefde vir ons en verwys na ‘n onvoorwaardelike liefde. Vers 7 sê dus: Verryk julle broederliefde met liefde (onvoorwaardelike liefde soos die liefde van God). Ons kan dus verstaan hoekom dit vertaal word as “liefde vir alle mense”.

“Agape” is ook die woord wat gebruik word in Lukas 6:27-36. In vers 27 lees ons: “Julle moet julle vyande liefhê”. Die res van die paragraaf gee aan ons ‘n paar praktiese voorbeelde van hoe om ons vyande lief te hê. Ons kan die woord “vyande” verstaan as mense wat ons kwaad maak, mense waarvan ons nie hou nie, daardie dief wat by jou huis ingebreek het of jou kar gesteel het, daardie bedelaar wat elke kort-kort voor jou deur staan met ‘n lang storie, die persoon by die werk wat alles in haar vermoë doen om die lewe vir jou moeilik te maak of selfs daardie familielid wat altyd vir die ander wil jou foute wil uitwys. Jy kan self gaan invul wie die “vyand” in jou lewe is.

Liefde – ʼn moeilike opdrag

Uit hierdie gedeelte, en ook die res van die Bybel, is dit duidelik dat wanneer God aan ons die opdrag gee om lief te hê (agape), Hy nie van ons ‘n emosie vra nie, maar dade. God weet dat dit nie vir ons normaal is om lief te voel vir ons vyande nie, maar Hy weet ook dat ons kan kies hoe om op te tree. God weet ook dat ons emosies baiekeer ons dade volg. Met ander woorde: As jy aanhou optree asof jy iemand liefhet, gaan jy later ook liefde vir hom voel. Jy moet dus oefen om vir jou vyande lief te wees.

Hierdie is nie ‘n maklike opdrag nie! Luister na die voorbeelde wat Jesus in Luk. 6:27-30 gee: Doen goed aan die wat julle haat, seën die wat julle vervloek, as iemand jou op

die wang slaan draai die ander wang, as iemand jou klere vat gee vir hom nog klere, gee en moenie terugvra nie!

Hierdie opdragte klink byna onmoontlik! Hoe kan ek vir mense leen sonder om te verwag dat hulle terugbetaal? Hoe kan ek net die hele tyd uitdeel? Ek sal mos arm word en honger ly? Hoe kan ek die liefhê en seën wat aan my sleg doen? Hoe kan ek spreekwoordelik die ander wang draai? Hoe kan ek dit regkry om liefde te gee as ek haat ontvang? Ek sal mos dat mense op my trap en my seermaak!

Maar Jesus het reeds hierdie klagtes van ons geken, want in vers 32-34 vra Hy: As jy net dié liefhet wat jou liefhet of goeie dinge doen aan dié wat vir jou goeie dinge doen of leen as jy weet jy sal die geld/item terugkry, hoe maak dit jou anders as die sondaars? Mense wat nie die Here Jesus ken nie, doen ook goeie dinge, hulle het ook lief, hulle leen ook uit, maar hulle sorg ook dat hulle nie swaarkry as gevolg daarvan nie. Eintlik het Jesus hierdie klagtes al in vers 20-22 aangespreek: “Geseënd is julle wat arm is…Geseënd is julle wat nou honger ly … Geseënd is julle wat nou huil … Geseënd is julle wanneer die mense julle haat…” Inteendeel, kyk wat lees ons in vers 23: “Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot.”

Deel God se seëninge uit

Ons moet onthou dat alles wat ons is en het aan God behoort en daarom hoef ons nie bang te wees om uit te deel nie. Ons kan liefde, seën, vriendelikheid en besittings uitdeel, sonder om bang te wees vir die gevolge, want ons beloning is nie op aarde nie, maar in die hemel.

Ons kan hierdie gedeelte opsom met Lukas 6:31: “Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.” Ons moet dit natuurlik nie omdraai soos my kinders al probeer doen het nie! Hier is ‘n voorbeeld van hulle redenasie :

“Sal jy daarvan hou as jou boetie jou slaan?”

“ Nee, Mamma.”

“Nou moet dan nie jou boetie slaan nie, want jy wil nie hê hy moet jou slaan nie!”

“Maar, Mamma, hy het my eerste geslaan. So dit beteken hy wil hê ek moet hom slaan…”

Ons moet ’n opdrag van God uitvoer soos Hy dit vir ons gee, sonder om te kyk of die ander persoon ook die opdrag nakom. In 1 Pet. 3:9 en Rom. 12:17 leer ons om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar met seën, want volgens 1 Petrus is ons daartoe geroep.

Die ewige spiraaltrap van geloofsverryking

Wanneer ons aan die bopunt van “Petrus se geloofsleer” kom, besef ons dat dit nie die einde is nie. Hierdie is nie ‘n leer nie, maar ‘n spiraaltrap wat op-en-op gaan. Wanneer ons “liefde aan alles mense” begin regkry, gaan ons weer terug na geloof. Ons geloof is hierdie keer meer en sterker, maar nog steeds nie volmaak nie. So, ons verryk dit wééreens met deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug en liefde – tot die dag van ons dood.

One thought on “Om die ander wang te draai

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *